in , , ,

Kô Sit Saam OmmiGhellie Met Frazer Barry

OmmiGhellie met Frazer Barry terug op kykNET vir ’n tweede seisoen

As jy noggie omme ghellieblik-vuur gekuier hettie dan ken jy maar min jokes.
“Ons stories. Ons volkskatte. Ons erfenis.” So beskryf Frazer Barry die kuier-program OmmiGhellie wat na kykNET&kie terugkeer vir ’n tweede seisoen.

Vir die wie nie weet nie; ‘n ghellie is vuur wat in ‘n blik gemaak word, nie net vir warmte kry nie, maar oorspronklik was dit bedoel om te dien as ‘n stoof.
Die naam ghellie kom van die Ingelse woord ‘galley’ wat skeepskombuis beteken.
Dit het later uitgebrei om ook veldkombuis in te sluit.
Innie ou dae in Suid-Afrika het ons mense wie nie stowe gehad het nie sommer ‘n ‘n blik-drom gevat, gewoonlik een van 25 liter, al rondom ‘n paar luggate daarin gesteek en dit was sterk genoeg om te dien as ‘n stoof en dit was redelik veiliger en meer doeltreffend as ‘n oopvuur.

Dit is ook natuurlik heel lekker as ‘n paar mense ommie ghellie kuier en gesels of stories vertel.

“Ek is ’n boorling van Kleinmond in die Wes-Kaap, maar ons hele land lê vol van die stories en erfenis wat nodig is om gedeel te word,” sê Frazer. “Met die eerste seisoen van OmmiGhellie het ons dalk te diep gedelf en was daar ’n hele paar stories wat mense hard geslaan het, maar hierdie keer het ons nie net daardie stories nie. Ons het ook stories wat mense gaan laat glimlag en net nog meer lief vir die land gaan maak.”

 

Frazer is lank reeds ’n voorstander van Suid-Afrika se erfenis en sal alles in sy vermoë doen om dit te bewaar. “Met die maak van die tweede seisoen het ek net weer gesien hoe dinge soos, byvoorbeeld, die rieldans beskerm moet word. Die mense wat die musiek geskryf het, die danspassies uitgewerk het en die blikviole gemaak het, word al ouer. As ’n jonger geslag nie nóú gaan inspring nie, gaan dit moontlik vir altyd verlore raak.”

 

OmmiGhellie met Frazer Barry is terug op kyNET vir ‘n tweede seisoen

 

Vir hierdie seisoen is daar weer van die Noord-Kaap tot die Weskus agter mense en hulle stories aangery.

“Soos met die vorige seisoen, was hierdie weer ’n baie natuurlike verloop van sake,” sê Frazer. “Soms het ons ’n besoek voor die tyd gereël; ander kere het ons die mense verras met ons aankoms. Só het ons by ’n man, ’n voormalige soldaat, gekuier wat deesdae snoek droog vir ’n lewe. Dit is hoe mens by die werklike hart van mense se stories uitkom.”

 

Frazer, wat ook een van die aanbieders van Fiësta is, sê vir hom is Suid-Afrika se prag en praal nie noodwendig ons wonderskone natuur nie, maar die mense wat hier woon.

 

“Suid-Afrikaners, álle Suid-Afrikaners, is wat ons land maak wat dit is. Die natuurskoon is net ’n bonus,” sê hy. “En watter bonus is dit nie!”

Van stilsit weet hy nie veel nie. So tussen die TV-werk, is hy ook musikant, skrywer en regisseur, en hy staan nooit terug om in sy Kleinmond-gemeenskap hand uit te steek om te help nie. In Oktober is hy en sy vrou, Deniel Barry, deel van Lipkap se Tongklap: ’n Rymkletskabaret, wat by die Toyota US Woordfees te sien is, en einde November is dit tyd vir die Festival voor het Afrikaans, wat vanjaar in Den Haag plaasvind.

Lees ook ons berig: Lipkap se Tongklap Rymklets Kabaret Daag Teater Norme Uit by Woordfees

“Ek sal Suid-Afrika nooit vir niks verruil nie,” sê Frazer. “Hier lê my wortels en hier is die stories wat vertel moet word en die musiek wat gemaak moet word. Dis ’n voorreg om terug te wees met nog ’n seisoen van OmmiGhellie – om weer met die mense te gaan praat wat nie altyd ’n stem het nie.”

Die nuwe seisoen van OmmiGhellie begin op Vrydag 6 Oktober om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en sal ook op DStv Catch Up beskikbaar wees.

WATCH Amptelike Voorskou van kykNET se Ommighellie S2

What do you think?

Written by Ryan Swano

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

GIPHY App Key not set. Please check settings

Teenagers Are Aliens

Brown Girl Magic: Kayla Kim Meiring