in , ,

Insig: Hoe Elton Landrew Sy Rol in Beter as Gister So Lewensgetrou Vertolk

Elton Landrew vertel hoe hy in sy rol in Beter as Gister die temas van vaderskap, verlies en tweede kanse so eg kon uitbeeld.

Share:FacebookXWhatsAppEmail
Elton Landrew as Tariq Cupido en Alexis Newman as die 6-jarige Katinka in Beter as Gister -Foto: Skermgreep

Meer as ‘n maand nadat Beter as Gister sy debuut op kykNET gemaak het, bly die dramareeks kykers aangryp met verhale wat eerlik na verlies, familieverhoudings en versoening kyk. Een van die karakters wat sterk aanklank vind, is Tariq Cupido, vertolk deur Elton Landrew, wie se reis wys dat dit nooit te laat is om weer hoop en menslikheid te vind nie.

Tariq is ‘n teleurgestelde eggenoot en pa wat ná die dood van sy vervreemde dogter onverwags verantwoordelikheid moet neem vir ‘n kleindogter wat hy nooit geken het nie. Wat as ‘n ongemaklike ontmoeting begin, ontwikkel geleidelik in ‘n verhouding wat hom dwing om sy eie seer, spyt en emosionele mure in die oë te kyk.

‘n Verhaal met universele temas

Vir Landrew was dit ‘n besondere voorreg om deel van die produksie te wees. Hy beskryf die ervaring as een wat hom nog lank sal bybly, danksy die passie van regisseurs Corné en René van Rooyen, asook die samewerking met die rolverdeling en produksiespan.

Hy het ook spesiale lof vir die jong akteurs op die stel, met Alexis Newman wat volgens hom kykers se harte gesteel het. Vir Landrew lê die krag van Beter as Gister daarin dat die verhaal wel in Afrikaans vertel word, maar temas aanspreek waarmee mense wêreldwyd kan vereenselwig.

“Die storie word in Afrikaans vertel, maar die temas handel oor vaderskap en familiebande wat universeel is,” sê hy. Om deel van só ‘n produksie te wees, beskryf hy as ‘n eer en ‘n voorreg.

Elton Landrew as Tariq Cupido in Beter as Gister

Persoonlike ervaring help karakter vorm

Hoewel Landrew nie self ‘n pa is nie, kon hy uit sy eie lewe put om Tariq se emosionele reis geloofwaardig uit te beeld.

Hy vertel dat hy ná sy suster se afsterwe gehelp het om haar twee seuns groot te maak. Daardie ervaring het vir hom ‘n dieper begrip gegee van verantwoordelikheid, onvoorwaardelike liefde en die belangrike rol wat familie in ‘n mens se lewe speel.

Hy beskryf dit as een van die grootste seëninge van sy lewe en sê dit het hom gehelp om die emosionele waarheid van sy karakter vas te vang.

WATCH: Amptelike Voorskou: Beter as Gister – S1 op kykNET

Hoop vir môre

Volgens Landrew dra Tariq se verhaal ‘n boodskap wat veel verder strek as die grense van die televisieskerm.

Hy glo die reeks herinner kykers daaraan dat verlies, berou en moeilike omstandighede deel van die lewe is, maar dat dit nie die einde van ‘n mens se verhaal hoef te wees nie. Die moontlikheid om verhoudings te herstel en verandering aan te bring, bly altyd bestaan.

Vir hom lê die kern van Beter as Gister juis daarin dat mense bereid moet wees om eerlik na hulself te kyk en die tyd in te sit om dinge reg te maak.

“Soos die titel sê, kan dinge altyd ‘beter as gister’ gemaak word as ons bereid is om die nodige tyd in te sit en te leer hoe om môre beter te maak.”

Ryan Swano, Elton Landrew, en Lizette Booys welbekend as Wiskunde Juffie by die openingsaand van Langarm

Elton se menswees skyn altyd deur

Bruinou.com se heel eerste regte ontmoeting met Elton Landrew was met sy deelname aan die 2018-opvoering van David Kramer se Langarm by die Fugard Teater in Kaapstad. Ons het toe alreeds geweet dat die Namakwaland-boorling wie deels in Namibië grootgeword het, ‘n sterk agtergrond op die teatervloer het, en meer spesifiek, dat hy David Kramer en Taliep Pietersen se District Six en Kat and The Kings musicals gespeel het.

Ons het ook al soms met hom en soms oor hom gesels omtrent ander latere rolle, soos toe hy onlangs in Finding Optel briljant vertoon het as die “gevaarlike oom” wie eintlik saggeaard is en met ‘n spraakprobleem sukkel.Net so by-the-way, Finding Optel was ‘n groot treffer by die 2025 Silwerskermfees.

Finding Optel – Quirky Comedy is Refreshingly Different

Terloops… So gepraat van Silwerskerm… Die gewilde akteur is ook bekend vir sy sterk vertoning as die bendebaas Damien Santi in die aksiebelaaide TV-reeks Spinners. Ons wag natuurlik in spanning vir die bekendstelling van Spinners 2 by vanjaar se kykNET Silwerskermfees, en sal nog tot dan moet wag en sien of hy daarin verskyn.

Elton Landrew as Damien Santi in Spinners

Ander tye, as ons hom onverwags êrens raakloop, dan kom hy sterk na vore as iemand wie ‘n groter belangstelling het in ander se stories, meer as wat hy oor homself wil gesels.
Hy gesels met passie en deernis, en vra lag-lag insigvolle vrae wat jou laat voel jy praat met ‘n tjommie wie jy bly is om weer te sien.

Ons dink dis Elton Landrew se menswees wat sy vertolkings so lewensgetrou maak, en ‘n groot deel van menswees gaan oor tweede kanse, genesing en hoop.

Dit is dan juis daardie aspekte van menswees wat Beter as Gister meer maak as net nog ‘n dramareeks. Deur herkenbare karakters en egte emosies herinner dit kykers daaraan dat selfs gebroke familiebande weer herstel kan word wanneer mense bereid is om hul harte oop te maak.

As jy die eerste paar episodes van Beter as Gister misgeloop het, kan jy dit inhaal op DStv Stream of Catch Up en nuwe episodes elke Dinsdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) kyk.

Fediverse Reactions
What do you think?
Share:FacebookXWhatsAppEmail
Stay in the loop
Join Bruinou
Avatar photo

Written by Ryan Swano

Leave a Reply

Avatar photo

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Un-erasing the Memory of Dulcie September Through Film, Music & Art

The Sunday Covenant: Bone-In Chicken Smoked Paprika & Coconut Reckoning