Laas Sondag se SABC program The Big Question, asook verskeie gesprekke in die media rondom die posisie van kleurlinge, het betrekking.
Om dwaas polities korrek te wees is n klug teen nasiebou en verradderlik tot die motiewe van die grondwet. Ook die geskiedenis toon dit n dwaasheid te wees. Neem maar die tyd van Hitler in Duitsland en die politiese korrektheid van blinde geïndoktrineerde nazis wat sou gemeen het dat hulle tydvak en partymag die ewige waarheid sou veronderstel.
In mededeelsaamheid, lojaliteit tot die beginsels van die vestiging van
n toenemende sinergiese nasie-eenheid, onverskrokke
ondubbelsinningheid en n sensitiwiteit wat begerig is om te oortuig
(eerder as om liewer stil te bly), behoort ons te handel en gesprek te
voer oor alles en nog wat in ons samelewing, asook oor als rondom en
oor ons.
Om polities onkorrek te wees is om reguit en duidelik jou eie mening te stel, ondanks die feit dat dit teen die aanvaarde mag indruis. Dis om, gedagtig aan die mooiheid van ons samehorigheid in ons almal se land, net na die beste vir almal en ook elkeen te strewe. Dit maak dan nie saak of jy as n softie, sell-out, n doring in die politieke vlees, te radikaal of n blote poepol gereken te word nie. Wat saak maak is hoe jy in jou denke en optrede – as sinergiese nasiebouer met jou nasie se welvaart as drywingsmotief – saans kan slaap. Dan kan jy Robbeneiland toe gestuur word, as n uitvaagsel bejeen word, verneder word, sensuur van kerk, staat en media verduur kortweg, soos Harry die Strandloper, Moeder Theressa, Mandela of Winnie, Gandhi, ML King Jnr of selfs Moses van die Bybel behandel word. Dan is jy ware patriot. Dans jy eintlik waarlik polities korrek.
Maar as jou polities korrektheid daarop gemik is om sommige of selfs een klein groep van jou volksgenote te benadeel, te marginaliseer of doelbewus hul marginalisasie te ontken of in haatdraendheid hulle die minste of selfs niks te gun, dan kan jy nooit as een van die ware manne of vroue van nasiebou geag word nie. Dan soek jy ook nie die mooiheid van samehorigheid nie en ontken jy dat almal die volle reg soos die ander oor die land het. Dan wil jy andere uitsluit en minag. Dan word jy konstitusioneel en polities absoluut foutief. Jy word n flater vir ons nasiebou. Jy is dan die volle antitese van patriotisme n verraaier van die konstitusionele motiewe en beginsel van gelykheid.
Dis wat derhalwe ook n toenemende neiging en bepaalde optrede word deur sommige polities korrekte verdraaide dwase rondom die kwessie van bruinmense en hulle sosio-polities-ekonomiese plek in Suid-Afrika.
Hulle meen dat bruinmense minder swaargekry het as swartmense. Hulle meen verder dat bruinmense meer pro-apartheid as swartmense was en hulle as meerderwaardig tot swartmense geag het. Hulle meen dat bruinmense geen ware bydra tot enigiets positiefs in die land gelewer het nie. Analogies volg dit dan derhalwe dat bruinmense in alle opsigte miskien net die krummels van Suid-Afrika net-net waardig mag wees.
Nou kom ek wees pronuit polities onkorrek, maar ek wil daardeur liewer n nasie bou as breek.
Nie alle bruinmense het oor die algemeen so swaar soos swartes gekry nie, soos ook heelwat swartes nie. Moet ek namme van swartes noem wat dit beter af as bruinmense gehad het? En wat dan van ander groepe wat besighede in dorpe kon hê en deur banke gefinansier was terwyl bruinmense net soos die meerderheid swartmense nie n kans gegun is nie!
Sommige bruinmense was pro-apartheid gesind omdat hulle voordele daardeur kon kry. Sommige swartmense was dieselfde. Die meerderheid bruin- en swartmense het egter geen voordeel getrek nie. Daarom kan daar vandag soveel ware verhale oor nasionale televisie uitgesaai word van jong bruinmans en vroue wat hulle lewens in die struggle verloor het. Kyk maar hoe trots is die Simunye kanaal daarop, want hul verstaan seker beter die begrip We are one as die kamstige polities korrektes.
As bruinmense hulle regtig beter as swartes geag het, waarom is hulle dan steeds statisties die mees inter-ras groep wat jy ooit in ons land kon kry. Is hulle nie miskien dié katalisator faktor nie vir nasiebou nie?
As dit waar is dat bruinmense geen ware bydra tot enigiets positiefs in die land gelewer het nie, staan ek verslae dat die eerste ou wat na die 1994 bedeling uit politiese geledere tronk toe gestuur is, n bruinman was Abe Williams! Nasiebouend het bruinmense nie daarteen gerebelleer soos nou tans die geval is by sommige swartmense wat oor die moontlikheid van hul helde of leiersfigure se tronkstrawwe die geval is nie. Laat ek nie eens praat van die bydrae van dr Boesak teen apartheid nie, en laat ek niks sê oor hoe hy verneder is en met vergewingsgesindheid sy lewe in hierdie land voortsit nie.
Met die sweet en bloed van bruinmense en al die ander groepe is hierdie land gebou. En die land is mooi!
Met opofferings van bruinmense langs en met soveel ander groepe word die land steeds gebou. En dit gaan nog mooier wees!
Nay my broer, ons is hier om te phola, met die hele familie en nog wat. Moet nie oor ons ko sta en trap nie, man. Ons is volle patritotte, in Suid-Afrika gemaak en getjap! En ons is nie die krummels werd nie.

