in

A contemporary classification van Kullids: Kullid by…

Share:FacebookXWhatsAppEmail

Wat is ‘n Kullid?

Meneer, hy, die Kullid is ‘n kleurige mannetjie en partykeer, hy, wat die Kullid is, hy kan even ook somme verkleur. Net da, oppie spot, kan hy sy colours change.

‘n Baie geleerde ou skryf mos die anne dag in die dikste en heaviest engels oor die ‘Great Coloured Identity Debate’ op Bruinou.com. Ou Mr Roger Warries skryf die ding. Nou, ek het plenty of respect vir ou Bra Roger, ma ek dink mos iemand moet die saak reguit stel oor die hele en die laaste Kullid Identity debate. (Excuse my language, ma ek gat mos die article slat nes Kullids praat – en ek mean nie daarmee om onse mense swak te maakie of om onnodig vulgar van aard te wiesie. Ek willie nice wees net om nice te weesie, eerder reguit tot die punt kom. Gaan ma net soos Brenda Fassie gesê het maak en wys die storie is reguit en duidelik, ha e funi irulla – need nie nog ‘n liniaal daarvoor nie).

So, wat is ‘n Coloured of Kullid?

Daar is ‘n hele paar soorte Kullids, soos ek die saak verstaan.

Die Kullid by History

Hierie Kullid kom voor veral in die Wes-Kaap en het grootliks onstaan vanuit die history van die vroeë ontwikkeling van die Kaap, dis nou as jy development interpret as dat dit eintlik begin het met die aankoms van die Blankes aan die Kaap.

Dis die Kullid wat lekkerte ken en ook die diepste seer wat ooit in Suid-Afrika kon of sou geheers het. Dis mense wat as slawe hiernatoe gebring is – die ENIGSTE groep in die hele Msanzi wat ooit as geheel enslave was en slavery geken het. Dis mense wat gedonner is net omdat hulle mense was, slawe was. Mense wat die beskawing verder laat onwikkel het. Dis daai oom wat oppie lande gevrek het sodat Mzansi hier kan wees en daai antie wiese privaatheid sonder eer ingedring is en wat nie na die polieste kon hardloop om ‘n saak te maak nie.

Hierie Kullids en hulle nageslag woon nog grotendeels innie Kaap. History takes no prisoners, en deur allie ouens, groepe, culture en tradisies van slawe het hulle onwillekeurig ‘n eie gemeenskap gevorm en deel hulle gemene faktore, die grootste daarvan is die slavery wat hulle experience het en wat vir hulle voorouers wie slawe gewees het, veel, veel erger as Apartheid gewees het. Apartheid was sleg, no doubt, maar slavery was worse by far…

Die Kullid by Origin

Dan het jy in Suid-Afrika daai Kullids wat Kullid is by means van hulle origination in Suid-Afrika voor en tydens die aparheidsjare. Dis nou hulle wat die afstammelinge van die slaafsgedwonge mense is. Dis ook veral hulle wat deur die Boere en Swartes nog verder gemaak is na die slawetyd verby was. Toe het apartheid hulle geklassifiseer as Kleurlinge van alle soorte – ‘Kaapse Kleurling’, Tranvaalse Kleurling’, ‘Ander kleurling’, ens.

Van hierdie Kullids is first generation Kullids, met ander woorde, deur die probleem van apartheid kon hulle swart of wit pa of wit of swart ma nie cozy altyd saamslaap en nog minder saambly nie. Even as die een ouer Portugees of Italianer gewees het, het apartheid deur die morele en sedelike wette daarvan dit verbied om oor die velkleurgrense heen met mekaar te slaap.

In die afgebakende areas, die lokasies, het hierdie Kullids hulle eie ervaringe, lewens, plesiere, ambisies, ens begin deel en uit hulle vele kulturele, taal, godsdiens en ander diversiteite, ‘n gemeenskaplike konstrukte begin vorm en aangeneem.

Die Kullid by Choice

Soos ‘n hele paar destydse Kullids vandag eerder hulleself as swart sien en nie as Kullid nie, so was daar in die apartheidstyd ook mense wat opportunisties die stelsels en sisteme ontwyk het deur oor die draad te spring na die groener kant toe. Daar was Kullids wat met ander groepe getrou het – want die liefde is sterker as die dood en die lus virrit nog streker as die hel ook. Hierdie mense wat aan die Kullid gemeenskap voorgestel is het soms gekies om dit te aanvaar en te embrace.

Toe die hele hipotese in die Wes-Kaap deur logiese denkfout-geprogrammeerde bevrydingsvegters ontstaan dat daar nie so iets soos Kullids is nie, het hulle vergeet dat daar by dan alreeds so ‘n sterk gemeenskap deur die geskiedenis ontwikkel is, dat Kullids nie bloot weggedink kan word nie. Inteendeel, nie eens Mandela was so dom soos daai meesters van verstand nie.

‘n Kullid by choice is dus iemand wat nugter die bestaan van die Kullid kultuur en konstrukte groep en wese aanvaar het en inherent aangeneem het.

Die Skielike nie meer Kullid

Hierrie perre steek ook hulle koppe uit. Onder hierdie groep is daar twee soorte.

Daar is daardie wat oorbeweeg het om hulle self as Khoi of San of Khoisan te ‘herklassifiseer’. Ons stem saam dat daar Khoi of San gewees het en dat daar steeds nasate van hierdie oerbewoners van Suid-Afrika bestaan. Ons stem ook saam dat Kullids ook as deel van hulle oorsprong, hierdie groepe moet erken. Probleem is egter, jislaaik, daar’s na 1994 skielik so baie wat so skielik Khoisan geword het… Ou Bennie Alexander se skuif na naamsverandering tot Khoisan X het die hele ding na 1994 half ge-trigger. Kort voor lank, toe’s dit net ‘Oe, ek’s ‘n Khoisan…’ of ‘Oe, ons het royal Khoisan bloed in onse are…’ Toe’s dit net Khoisan waar jy kyk. Ouens wat niks lineage kan bewys met die koninklike Khoisan huis nie, word toe sommer op die spot getjap en ingeseën as die Royal Khoisan Leaders. Voor 1994 was hulle ewe trots Kullid en het hulle nie eens geweet waar Griekwastad is nie, ook nie eens van Adam Kok geweet nie, Come 1994, toe’s hulle skielik Khoisans, sonny… So sunny in Mzansi soos die Khoi ennie San al die tyd gewees het. En as jy mooi ondersoek gaan instel, dan is baie van daai perre wat so in die voorste stoele van die nuwe Khoisan beweging sit, blote fakes en niks van Khoisan nie. Hulle het eintlik die oorspronlike Khoisan se bestaan opportunisties ge-highjack, want na 1994 was hijacking die inding, op alle vlakke.

Dan is daar die ander soort Skielik nie meer Kullids. Dis daardie perre wat oor die algemeen goedheid en guns vanaf die Kullid gemeenskappe ontvang het, maar wat niks meer wil weet of wees van Kullids nie. Die soort ouens wat hulle eerder as South Africans sien en selfs nie wil hoor dat daar so iets soos Kullids is nie. Hulle is so propagandisties teen die notion van Kullid dat hulle dom-astrant-dwaas selfs diegene wat hulself wel as Kullids ag nie wil sien, hoor of hulle bestaan wil erken nie. Soos anthropologist wat gister net hulle honderdste nuwe professoraat ontvang het, vaar hulle teen die konstukte bewese bestaan en verstaan van ‘n Kullid identiteit uit. Almal is iewers in Msanzi verbind aan een of ander groep, met die verstaan dat ons almal saam trots een nasie van Suid-Afrikaners is, die hele unity in diversity van die Konstitusie taal, maar vir hulle is daar skynbaar wel Zoeloes, Tswana, Pedis, Portugese, Boere, ens, maar net nie Kullids nie. Dus, hulle is nie meer Kullids nie, al is hulle gebore in Kullid gemeenskappe of het hulle daarin opgegroei of doen hulle selfs nog besigheid onder daardie Kullid mense (wat kamstig nie bestaan nie)… Die beste is: Almal sien hulle as Kullids (elke Zoeloe, of Boer of Indier of Pedi). Even government sien hulle as Coloureds omdat elke vorm wat ingevul moet word jou vra of jy Coloured is of dan nie. Dis net hulle wat hulself nie as een ag nie.

Die Nevva Kullid

Hierdie is ‘n unieke groep en wel onderskeibaar van die laaste subgroep van Skielik nie meer Kullids nie.

Soos die Bybel sê: Hier is die gawe van onderskeid nodig… Djy moet mooi kan discern, my kjend.

Kyk, die sosiale konstruk word onwillekeurig gebou deur die geskiedenis, ervaringe, gebeurtenisse, gevoelens, smaak, voorkoms, alle soorte en vorme van liefde, ens. In die bou van sosiale konstrukte is daar dinge wat gebeur en reaksies wat ontwikkel. Sommige aanvaar die opbou van bepaalde konstrukte, sommige beinvloed dit selfs, sommer akklimatiseer daartoe, ander word geassimuleer daarin, ens., welke bewustelik of nie. Feit is, die lewe gebeur en soos reeds gesê, history takes no prisoners.

Binne die opbou van die sosiale konstruk, is daar egter diegene wat bewustelik kies en lewe om op ‘n ander vlak as die sosiale konstruk te lewe en hulle eie self dan so te ken, te verstaan, toe te pas en hulle lewenssiening so daarop te bou. Omdat die ‘Kleurling’ konstruk en opbou daarvan so problematies van aard was, kan mens tog erken dat daar diegene sou wees wat eerder buite die konstruk daarvan sou wou beweeg as binne dit. Die ras basis van Apartheid het ook etnisiteit ter aanstoot gebring en te verstane sou diegene wat vryheidsvegters was eerder op ‘n ander vlak van die sosiale konstruk wou beweeg. Dis diegene wat hulself nie primêr as etniesverbonde wou sien nie, maar eerder mens en gelykheidsideaal gebonde. Diegene wat hulself as sulk geag, en werklik as sulk geleef het, kan moeilik binne etnies of kulturele verband gedefinieer word. Ons volstaan dus dat daar ‘n baie klein goep is wat as Nevva Kullid (of nevva Zoeloe, nevva, Boer, nevva Shangaan, ens) gesien kan word.

So, is Kullid dan net nonsense?

Ja en nee.

Kom ons start by die negatiewe. Kullid is nonsens as die primêre doel en waarde daarvan etnisiteit, separitisme of wanontwikkeling van die self en die groter geheel beteken. En dis waar ou Roger gelyk gegee kan word. Indien jy of ek onsself as Kullid ag bloot omdat ons onself beter as enigiemand anders sou ag, dan is om Kullid te wees die grootste nonsens! As Kullid beteken om net bling te wil dra met die doel en sin dat bling alles en die laaste ding van Kullid is, dan is Kullid nonsens. As Kullid in die inherenste verstaan daarvan sou beteken dat dit dronk word en luigatterigheid is, dan is Kullid die slegste ding onder die son. As jy dink jy’s fokken great om ‘m Kullid te wees en jou vrou om elke hoek te wil donner en elke rok te wil jag en kinders maak sonder om die verantwoordelikheid van ‘n vader ‘n vader na te kom, dan is Kullid kak! (Onthou, ek’t djou ge-warn, ek praat die ding reguit…!) As Kullid net beteken om elke week werktoe te gaan net omdat jy geld vir jou kar moet kry sodat jy club toe kan gaan, dan is jy die laaste Kullid wat ek dink in Mzansi moet toegelaat word om te stem. As Kullid is om nie te wil gaan studeer nie, dan wil ek nie ‘n Kullid wees nie.

Maar, daar is die anderkant. En nou moet ou Roger ook toegee. Om Kullid te wees is nie vir die meeste Kullids net die negatiewe van wat ek so pas hierbo genoem het nie. Daar is ‘n miskonsepsie dat Kullids oor die algemeen die meeste drink of net clubs like. Laat iemand bietjie navorsing gaan doen, of observeer net mooi en vra vir SA Breweries wat die per capita alkohol verkope volgens kulturele groepe is, en jy sal verbaas wees wie suip eintlik uit gewoonte en ook die meeste in Mzansi. Soos die nuwe black diamonds meer spandeer op Westerse goedere instead van geld belê en spandeer op en in hulle eie gemeenskappe – die dikste nuwe karre ry, die duurste klere dra – kan jy gerus vir Maslow gaan consult en verstaan dat wanneer Kullids oor hulle golfies is, dan is dit maar iets soortgelyks aan iemand wat eerder ‘n vrek duur tydelike haarstyl inplanting doen as om dieselfde geld te bestee aan iets meer gemeen ontwikkelend van aard. En gaan besoek maar die clubs en kyk of daar nie nog meer ander groepe is wat net so uithang en magroovans issie.

Om Kullid te simplisties te verstaan is eerder die problem vandag. Die problem is verder ook dat ons nie sisteme van koherensie onder Kullids ontwikkel het wat so sterk is soos by ander groepe nie, want ons het nog nooit onse eie tuisland gehad wat groepe gehelp het om ‘n bench mark van hulle kultuur of hulle tradisies op te bou en te onderhou nie. Nog minder het ons ‘n konstante kommunikasie medium soos ‘n eie radiostasie gehad waar onse eie taal en gebruik daarvan, ons tradisies, ons kulturele gemeenskaplike punte, onse eie musiek en klank of leiers duidelik na vore kon kom, gehoor word, gedeel kon word of ervaar kon word soos dit die geval met al die ander groepe gewees en steeds is nie. Hierdie twee sake was en is die mees inhiberende faktore tot die verstaan, ontwikkeling en volhoubaarheid van onse kultuur en sin van kulturele identiteit.

Wat ons nodig het, en wat ons oorhet, is onse eie trots dat ons Kullids is. Wat ons nodig het en wat mense soos Roger-hulle kan doen, is om ons kompleksiteit te verstaan en hulle eie moue op te rol en eerder beurse op die been te bring vir ons gemeenskappe. En ons het nie konferensies en goeters nodig om ons te vertel wie en wat ons is nie – Ons is wat ons is: Kullid – by choice.

Soos ons almal respect om te wil wees wat hulle wil wees – respect ons dan ook at least om te wees wat ons is: Kullid, en kla.

By Ronald Dyers – Kullid.co.za

Fediverse Reactions
What do you think?
Share:FacebookXWhatsAppEmail
Stay in the loop
Join Bruinou
Avatar photo

Written by Ronald Dyers

Leave a Reply

Avatar photo

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Festival with a difference

Hilarious Durban video – “I get the stekkies, you can get the bats!”