in

Desperate bushies en greedy pastore…

Share:FacebookXWhatsAppEmail

(Recently, an organisation by the name of 623 Networks operated a SMS pyramid scheme aimed primarily at the Coloured communities of Johannesburg and Durban. The scam was spread through the churches and by the time the pyramid collapsed (as pyramid schemes always do), the scammers had netted themselves in excess of R38 MILLION!!! A case has been opened against the operators of the scam, but it is unlikely that the many people who invested their life savings into this scheme will ever get their money back. This no-holds barred article by Ronald Dyers tries to make sense of how this scam flourished, what it says about some clergy and what it says about the Coloured community as a collective. Definitely worth the read! [CONTAINS SOME EXPLICIT LANGUAGE AND FLOOKING!] – Editor)

Aunt Susan thiep my van die matter. Ouens het gehoor jy kan duisende maak deur in die sms-kompetisies te invest. Dit werk so: Ouens kom na jou toe en tune jou dat jy baie zuck kan maak deur in hulle besigheid te invest. Hulle besigheid is daai dat mense sms’e stuur om iets te wen, byvoorbeeld ‘n kar. Nou gha jy hulle jou zuck, so R5000 en oor twee weke is jou geld verdubbel! Hulle gha jou dan jou geld terug – met die profit wat jy gemaak het! Omdat jy so kwai gescore het, tune hulle jou, moet jy nie nou ophou nie – jy moet weer alles insit, die hele 10 gran. Jy maak so, en twee weke later het jy 20g’s! Ma se kind, die ding werk mos mooi, tune jy jouself, en nou raak jy greedy en begin sommer 50g’s insit. Party ouens gaan vat sommer bonds uit… Selfs kerkmense is deur hulle pastore getune dat die ding span en dat die mense hul zuck moet insit, want dis ‘n bushie move en help die bushies! Toe strike die poppo die fokken fan.

Nie lank nie toe’s daar nie meer geld nie en baie mense van ons – vanaf Westbury, Durbs en PE – het, volgens berammings deur die polisie, sowat 38 miljoen rand verloor. Die ouens wat die scheme gerun het is nou in hiding. So tune Aunt Susan my toe van die issue.

Ek tune haar toe die Majat se wisdom:

Die probleem is eerstens die kwessie oor leierskap onder ons mense.

Ons mense het, om dit plat en reguit te stel, gullible geword. Ons onderskei nie meer nie. Ons is vatbaar vir amper enige nonsens as dit by leiers kom en oor sake wat van ons dieper onderskeid verg. Hierdie probleem is die onderliggende en een van die wesentlikste bedregings vir ons samelewings-, gesins-, en persoonlike ontwikkeling. Ons neem alles te maklik op, eet alles amper vir soetkoek op. Die oppervlakkige en tydelike word vir ons belangriker as dit wat last en ware betekenis het.

As ‘n ou skielik gestudy het, shine of ons imponeer, dan val ons vir al sy jokes. Elke nuwe giertjie word vir ons die mode en ‘n godjie. Ons vra nie kritiese of deursoekende vrae nie. Ons go with the flow. ‘n Pastoor preek kwai (en ek dink al die pastore moet kwai preek), en ons kyk nie of dit maar aansit, toneelspel of die ware jakob is nie. ‘n Ou praat die vlotse engels, kom van oorsee af of van sun city af, dan is hy die real machoy. Ons vra nie watter sun city nie – die een daar by Rustenburg se kant of die een in Joburg nie. Hoe die pastoor nou eintlik pastoor geword het, maak nie saak nie. Al preek hy eintlik preke wat hy die hele week tot die laaste letter en fynste liggamstaal afgecopy en ge-rehearse het van ‘n video van een of ander Amerikaanse pastoor, maak nie vir ons saak nie. Wat hy ons vertel is klaar en waar. Ons bevraagteken en ondersoek niks by onsself nie.

Ek kan my voorstel hoe die pastore en predikante met die sms-piramiede skema na die gemeentes gegaan het en hoe baie mense vir die vlou grap geval het. Kon die gemeente en die pastoor nie hulself afgevra het om die sms stelsel te ondersoek nie. Inteendeel, hulle sou gevind het dat die sms kompetisie stelsel so werk dat die selfoongroep (Vodacom, MTN of Cell C) jou eers na drie of vyf maande van jou campaign of projek uitbetaal en dat die onkoste vir so ‘n sms kompetisie jou maandeliks nie minder as R1 500 kos nie, en dis met jou eie advertisements uitgesluit. Iemand kon mos net vir Vodacom gebel het en self uit die perd se bek gehoor het waar en wanneer die hoenders of ganse water drink – Simple soos daai! Nee, maar wat ons vertel word, glo ons te maklik, veral met die pastoor en die ouens met hulle shinny karre wat ons beïndruk.

Die leierskap krisis in ons gemeenskappe word ook deur ons oppervlakkigheid aangeblaas. Die antie of oom wat vir jare lank ons mense in die winter sop gee, wat kinders in hulle huise neem en op eie onkoste grootmaak, besit nie in ons oë soveel waarde soos daai ou wat skielik uit die bloute opdaag en met een meeting of gebaar sommer alles in die gemeenskap wil oplos nie. Al het hy met Afrikaans grootgeword, maak hy of hy fokkol meer daarvan ken nie. Hy praat so diep engels dat as jy jou oë toemaak jy kan sweer jy’s nou in Queen Elizabeth se huis. Maak dat jy voel om ook te sê: “Oh, Henry, I like it when you talk foreign”. Skielik word daai sort ou die outjie op die houtjie! Die leier van die dag en die lewe. Niemand check sy track record uit nie. So maak ons ook met baie van die politici wat ons gemeenskappe en ons bruin vote net vir hulle eie gewin wil misbruik. Ons vat hulle nie aan oor die feit dat hulle ons mense en gemeenskappe, deur hulle policies en preference treatment van ander gemeenskappe of groepe, afskeep nie.

Dan is daar die saak oor ons te gemaklike aanvaarding of propagering van sogenaamde leiers wat in werklik nie leiers is nie, en in sommige gevalle geen enkele greintjie van leierseienkappe of -kenmerke dra nie. Ons erken mense as leiers wat gemaakte leiers is. Gemaak met hulle aansien wat verdaaid deur die media of kapitalistiese propageringsmeganismes op ons afgeforseer word. Gemaak deur hulle ANC card-bearing membership. Gemaak met hulle posisies wat hulle beklee. Gemaak deur die geld wat hulle half oornag wie- weet-hoe bekom het. Gemaak deur mense instansies wat nie ons s’n is nie. Gemaak deur ander, nie deur ons of hulle eie gemeenskappe nie. Hulle is nie soos die antie of oom wat ek netnou van gepraat het nie. Hulle sit amper nooit hulle voete in ons gemeenskappe of in ons huise of op die sokkerveld waar ons laaities practice nie. Hulle weet amper niks van ons gemeenskaape nie; nie waar ons kinders speel of hoe ons ou mense gister genok is nie. Maar ons sien hulle as ons leiers…

Damn man, iemand moet hulle straight wysmaak dat hulle nie ons leiers is nie. Hulle moet liewers eers try om hulle leierskap te bewys. Ons maak ons eie leiers, en ons het baie van hulle, amper in elke straat! Nou hoekom is ons dan so gullible om hierdie vreemde mense as ons kamstige leiers te wil aanvaar? Waar gaan hulle wees as hulle planne veroorsaak dat die poppo die fan strike soos met die sms-piramiede skema?

Die tweede saak wat issues soos die sms-piramiede skema maklik aangeblaas het, is ons groeiende materialisme. Die Bling-problem. Ons is trend setters in fashion, dis waar. Vra maar my bra, Boeta G, wat presies weet wat in die fashion world aangaan en ‘n expert op modes en veral skoene is. En laat ons bly om trend setters te wees, want net bushies kan shweppa soos bushies kan. En, soos Aunt Susan jou sal tune, net bushie meide kan so stylish, sexy en grand in die nuutste modes lyk. Dis nie ons gebore modebewustheid en modeleiding wat die probleem is nie, dis ons toenemende aanhang ten koste van amper alles vir materialisme wat die problem is. Daarmee het ons intens deel geword van ‘n degraderende nasionale en internasionale trend wat die materiële bo alles plaas. Dis wat se kar jy ry, watter posh huis jy in bly, in watter suburb jy blom, watter nuwe nokia jy het, of jy levi’s elke nwaeek kan dra, of jy die dikste gold of platinum chain dra. Ek check sommige van ons chicks dra nou ook van die ingevoerde hare ….!

Hierdie probleem van materialisme word nie net gepropageer en aangeblaas deur die reikhalsende gryp na rykdom en materialisme van die hele sosiaal-maatskaplike- en besigheidwêreld van ons land nie. Dit kom ook van die kerk se kant.

Jislaaik, ek verstom my hoe mense wat hulle deesdae beter christene as ander ag, die materialistiese voorbeeld van hulle pastore kan najaag. En ek is nog meer geskok oor hierdie ouens, die pastore, wat net geld en materialisme preek en besing. Dit gaan nie meer oor: Eer God en dien jou naaste nie. Dit gaan nou net oor ek, ek, ek, ek en wat ek kan kry. Jy moet die nuutste suite kerktoe aansit. Jou dik chain moet uitstaan in plaas van jou hart. Jy kan nie met ‘n skoro-skoro kerktoe gaan nie, jy moet die nuutste kar ry. Maak nie saak hoe jou lewe in die huis of gemeenskap lyk nie, solank jy ook deel van die big church is. Fok hoeveel jy skuld en of jy nie mense wil betaal nie, fok hoeveel die pastoor uit jou uit maak, fok of mense in die squatter camp nie kos het nie, fok of jou neighbour nie meer ‘n werk het nie, fok of jy jou ma nie eens in die old age home visit nie, fok of jy niks vir jou gemeenskap doen nie, fok die waarheid, fok die ware liefde, fok eerbaarheid … Fok alles!. Al wat tel is wat ek en my pastoor het en hoe ons die beste en mooiste kan geniet. En die beste van alles is dat al hierdie prosperity gospel pastore alles wat die gemeente so op hierdie aarde vergader – al die skate wat hulle bymekaar maak – eintlik in die naam van die pastoor geregistreer word. Die kerk se tabernacle of modern building, al die assets, die karre, die music instruments en sound equipment, die busse en die laaste blomme op die stage, alles is in die naam van die pastoor – nie in die naam van die kerk nie!!

Daarom kon daar so maklik vir die sms-piramide scheme geval word, want almal – veral in deesdae se grand kerke – is blind vir alles. Al wat hulle wil sien is geld, geld, geld en hoe hulle nog meer kan bymemaar maak. Lyk my hulle’t verseker geraak dat hulle met al die goed hemeltoe kan gaan.

Verstaan my reg. Ek sê nie dat mens nie vooruitstrewend en suksesvol moet wees nie. Dis alles goed en wel om die beste te soek vir jou en jou gesin. Maar die lewe is bietjie baie meer as geld. En as jy jouself ‘n christen ag dan is geld ‘n bysaak, a means to an end. Die hoofsaak – soos ek die christelike godsdiens verstaan – is om eerstens die koninkryk van God te soek. Nie jou eie koninkrykie eerste nie. Die kerk, en spesifiek die prosperity gospel kerk – word ‘n probleem vir ons mense se ontwikkeling. Hulle vreet nie net ons mense se geld nie, maar bring geen noemenswaardige verifieerbare en volhoubare ontwikkeling vir ons mense nie.

Die solution vir hierdie soort ontwikkelings probleem lê daarin dat ons eerlik moet erken dat ons mense ook graag wil deelhê aan die ekonomiese en materiele ontwikkelingsdinamika wat in Suid-Afrika aan die gang is. En omdat geleenthede daarvoor en leiers daarin besonders skaars is, gryp ons mense na amper enigiets wat belowend lyk. Bushies is van die grootste sekondêre drug dealers in die land want ons jongmanne het nie options nie. Die beste plan is meestal om drugs te verkoop om ook die materiële vooruitgang te probeer ewenaar. Ons mense sit met ‘n ontwikkelingskrisis en werksgeleenthede, ekonomiese geleenthede word al hoe minder deur die verdraaide gelykheidsontwikkelings beleidrigtings en toepassing in Suid-Afrika. Aunt Susan sou dit so gestel het: Ons mense word fokken geside-line en kry die krummels en hulle’t nie ‘n damn way out nie. Nou vat die pastore en kamstige leaders hulle nog vir ‘n ride ook!

So, die solution is dat die regte en ware opregte leaders opstaan en gevolg word. Dan moet bushies hulself organise en gesamentlik die huidige stelsel begin gebruik om hulself te bevoordeel. Hoe?

Deur een organisasie wat hulle belange sal verteenwoordig en vir hulle te praat, op te rig. Dan moet hierdie organisation die bushies in alle opsigte lei, help, bystaan, opvoed en geleenthede vir bushies aangryp. Byvoorbeeld, soos die Swartmense konsortiums skep en dik BEE deals kry, kan hierdie organisasie dit ook doen. Kom ons veronderstel ons begin dit doen deur al die ou of afgeskeepte geboue in Joburg te koop en dit te omskep in goeie residential of business units. Ons het die artisans daarvoor onder ons. Na vier jaar word daardie beleggings in waarde verdubbel, want dis hoe property pryse deesdae in Suid-Afrika groei. Dis een voorbeeld van hoe ons ekonomies onsself gesamentlik kan verbeter. Ek is seker daar’s vele meer maniere wat ons almal saam aan kan dink. Dink maar aan hoe die Wittes vir Sanlam en Santam en Avbob begin het en hoe hulle voordeel daaruit getrek het.

Nou sal jy my seker wil tune dat bushies nie kan saamstaan nie. Wel, die lannies was ook nooit volkome sonder splits of faksies nie. Dis ‘n kwessie dat ons die bushies wat wél wil saam werk die kans gun en nie ons laat stuit deur te wil focus op bushies wat nie wil saamwerk nie. Dis die oplossing vir die bushies. Anders is ons gedoom as die nuwe hopeless case van Suid-Afrika. Dan moet die auties maar bly drugs verkoop, die meddies hulself vir Nigerians gee, andere hulself deur pastore laat rob, party bly glo en dink dat die kamstige gemaakte leiers aan hulle sal dink en die res maar elke week net club toe gaan en hoop vir magic.

Aunt Susan staan nou hiers langs my met haar sigarette in haar mond en ‘n koue Black Label in die hand en vra nou vir ons: Nou wat de fok gaan jy nou maak? Steeds jou soos ‘n moomish gedra? Op Mxit bly of jou gat in rat begin kry? Of is jy nie ‘n bushie se gat werd nie?! Decide, ma se kind, decide…

Fediverse Reactions
What do you think?
Share:FacebookXWhatsAppEmail
Stay in the loop
Join Bruinou
Avatar photo

Written by Ronald S Dyers

Leave a Reply

Avatar photo

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Underage Drinking Crisis – documentary in production

Marrianridge – Myths and Legends (Special Edition)