Na vele gesprekke tussen die bestuur van die Ghoema Musiektoekennings en verskillende partye, insluitende Bruinou.com,  is ons verheug om aan te kondig dat daar 'n spinternuwe kategorie bygevoeg is vir die 2017 nominasies.
Daarby het ons sommer twee stukke ander goeie nuus vir kunstenaars en aanhangers van Afrikaanse Hip Hop.


Afrikaanse Hip Hop is ooglopend die grootste vorm van hedendaagse Afrikaanse musiek wat deur bruin kunstenaars opgevoer en opgeneem word.
Daar is wel ook natuurlik wit en swart Hip Hop kunstenaars wat Afrikaans Hip Hop opneem en opvoer maar verreweg die meeste en mees uiteenlopendste en opwindendste Afrikaanse Hip Hop komposisies kom uit ons bruin gemeenskappe.


Behalwe dat daar soms in standaard Afrikaans opgeneem word, is die opvallendste musiekstukke dit wat in Afrikaaps asook ook in ander streeksdialekte opgeneem word. So klink die kunstenaars van Eldorado Park verskillend van die van die Noord-Kaap en hulle klink weer verskillend van die kunstenaars van die Kaapse Vlakte.




Nou waar pas die goeie nuus nou eintlik in?
Dit is 'n feit dat die musiekbedryf ekonomie rondom Afrikaanse Hip Hop nie veel van ons kunstenaars begunstig nie en dat dit iets is wat aangewerk moet word en opgebou moet word.
Een van die groot struikelblokke is marksontwikkeling en dit is selfs vir van die bekendste bruin Afrikaans Hip Hop kunstenaars moeilik om deurbrake te maak waar hulle groot getalle snitte of albums verkoop soos wat ouens soos Jack Parow en Die Antwoord doen.
Ons gaan nie nou delg in die Apartheids-geërfde sosio-ekonomiese en strukturele faktore wat tot daardie situasie bydra nie, want hoewel dit nie misken moet word nie, wil ons ook graag vorentoe bou.


Daar gaan natuurlik ook nog aanhoudend baie debat gevoer word oor die benaming van die Ghoema Musiektoekennings wat deur baie in ons gemeenskap beskou word as "cultural appropriation" maar dit is nie hier ons doel om die debat verder aan te wakker of om dit te smoor nie.


Ons by Bruinou.com glo wel dat as ons beste gehalte Afrikaanse Hip Hop kunstenaars begin erkenning kry by die Ghoema Musiektoekennings, dat dit ander kunstenaars in ons gemeenskappe sal aanspoor om ook na sulke kwaliteit in hul opvoerings en opnames te strewe ...en dit geld nie net vir Hip Hop nie maar ander genres ook.


Die goeie ding omtrent hierdie nuwe kategorie is dat albumverkope en downloads nie een van die hooffaktore is in die beoordelingsproses nie. 'n Nuwe kunstenaar wat nie 'n massiewe groot aanhang het nie staan dieselfde kans om te wen as kunstenaars wat deur groot platemaatskappye gerugsteun word solank as wat hulle aan die kriteria voldoen.  


 Vir die wat reeds weet is inskrywings tot sommige musiektoekennings nie sommerso verniet nie en huidiglik staan die inskrywingskoste tot die Ghoemas op R600 per inskrywing.


Die Goeie Nuus!

Om die bal aan die rol te kry word die nuwe kategorie, Hip Hop Liedjie van die Jaar vir 2017 deur kyKNET geborg, so enige kunstenaar wat hier inskryf hoef nie die R600 inskryffooi te betaal nie.

Dit is ‘n EENMALIGE inleidingsaanbod vir slegs 2016 vrystellings wat kwalifiseer vir die 2017 toekennings.


Verdere goeie nuus!
Vir die wat weet was die oorspronklike sluitingsdatum vasgestel op 18 November 2016.

Die sluitingsdatum is nou uitgestel na 25 November 2016! Dit is volgende Vrydag.


Ghoema inskryfvorm en reëls is verder onderaan.
Let op dat die nuwe Hip Hop Liedjie van die Jaar Kategorie 10.2 is.


Volgens Gerda van Reenen, die Administratiewe Beampte van die Ghoemas is hulle baie opgewonde oor die nuwe kategorie en kan hulle nie wag om die liedjies te hoor nie.
Sy sê ook dat inskrywers welkom is om hulle enige tyd te bel op 073 404 6171 as hulle iewers vasbrand.


Alhoewel dit op baie kort kennisgewing is dat hierdie nuwe kategorie bekendgestel word, glo ons dat as ons kunstenaars die geleenthyd aangryp, dit dan kan lei tot groter groei vir almal van ons.

Ons verwelkom dus die Kyknet borgskap van die nuwe kategorie en dit beteken die enigste onkoste vir ons Afrikaanse Hip Hop Kunstenaars is om hul materiaal na die Ghoema organiseerders te courier.


Graag wil ons ook vir Shihaam Domingo bedank vir haar insae, haar vasberadenheid om hierdie proses deur te sien en natuurlik dat sy dit goed gevind het om Bruinou.com by die proses te betrek.


Kliek hier om die KRITERIA dokument te download.

 

Kliek hier om die amptelike INSKRYWINGSVORMS te download.




Neem asseblief kennis van die volgende verklaring wat deur Gerda van Reenen vrygestel is:

1) Voordat inskrywings gemaak word, moet elke verteenwoordiger en kunstenaar hulself deeglik vergewis van die inhoud van die Amptelike Kriteria, Reëls en Regulasie-dokument soos oorspronklik opgetrek en saamgestel deur Barry Pretorius en jaarliks aangepas deur Heidi Edeling in opdrag van die Bestuurskomitee.


2) Inskrywings moet ’n handtekening vervat en as ‘n PDF-dokument gestuur word na:  

This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

NOTA:  Herbenaam asb dié PDF-dokument as volg:                                     

                                                                     

Ghoema 2017 – Kunstenaar(s)/Groep/Liedjieskrywer(s)/Vervaardiger(s) se naam/name   

                                                                         

bv. Ghoema 2017 - Elvis Blue   of   Ghoema 2017 - Die Heuwels Fantasties   of   Ghoema 2017 - Floors & Murray (vervaardigers)


3) Nadat alle inskrywings ontvang is, sal 'n faktuur aan U gestuur word om die inskrywingsfooi/e te betaal. Dit geld vir alle kategorieë buiten kategorie, Hip Hop Liedjie van die Jaar vir 2017.


4) Sodra U ’n faktuur ontvang het, moet U asseblief die verwysingsmateriaal (CD’s / DVD’s / USB memory sticks) so gou moontlik na my as volg versend:

Per pos:

GHOEMA 2017

Vir aandag: Heidi Edeling

Posbus 1083

Pinegowrie

2123

óf via hand-aflewering of Courier te AFDA, Johannesburg (slegs tussen 08h30 en 17h00):


GHOEMA 2017

c/o Heidi Edeling

AFDA

41 Frost Avenue

Auckland Park

Johannesburg

2006

Please deliver package/s at AFDA Reception Desk
 

óf na ure – vanaf 17h00:  

Soos telefonies bevesig met Gerda van Reenen op 073 404 6171.


5) Die sluitingsdatum vir inskrywings is:  Vrydag 25 November 2016  en ek gaan

streng by hierdie sperdatum hou.


Opskoud en Voorspoed!!!