in , ,

Is Klaa Warrit Soe Is – Wayne McKay is AfriSnaaks

Wayne McKay se nuwe comedy show AfriSnaaks is ‘n rollercaster-ride wat beloof om jou te laat skud vannie lag

AfriSnaaks - Image: Jeremeo Le Cordeur

Die skreeusnaakse komediant het nog allie pad die vermoë gehad om ons te laat lag vir onself en sy nuwe show gaan jou laat skud vannie lag.
AfriSnaaks deur Wayne McKay word aangebied in samewerking met Vulture Productions en beloof dat jy Afrikaans met nuwe oë en die snaakste insigte gaan bekyk.
McKay se nuwe verhoogoptrede wys vanaf 5 tot 10 Februarie 2024 by die Artscape Innovation Lounge.

Wayne McKay is meer as net een van die Kaap se langsblewende gewilde komediante. Die gesoute vermaaklikheidster se veelsydige loopbaan behels dat behalwe sy bekende komediese optredes hy toneelspel, ‘n radio en televisie aanbieder is, asook dat hy as gasheer en seremoniemeester werk. Een van McKay se nuutste loopbaan verwikkelinge is ook om podcasts saam die gewilde media persoonlikheid Baydu Adams aan te bied.

‘n Rollercoaster- Ride van Lag

Die bekende komediant nooi jou om saam hom te gaan op ‘n rollercoaster-verkenning van die merkwaardige taal wat Afrikaans is, want Wayne McKay is Afrisnaaks.
Afrikaans in al sy gedaantes en dialekte, en veral die Kaapsevlake variant van Afrikaaps is ‘n goudmyn van lagwekkende scenarios en McKay is van plan om ‘n hele klomp goue oomblikke met die gehoor te deel.
Dis Afrikaans soos dit ervaar word deur diegene wat regoor Mzansi woon en soos wat weerspieël word deur McKay se vlymskerp, geestige en soms absurde satiriese komiese vertoning.

Comedian Wayne McKay – Image: Jeremeo Le Cordeur

Die produksie-venoot vir Wayne Mckay se AfriSnaaks, Vulture Productions, inspireer en ondersteun kunstenaars oor verskeie genres en kunsvorme heen om boeiende inhoud te skep wat nie net vermaak nie, maar ook opvoedingswaarde bied. Hulle moedig die skepping van outentieke en oorspronklike werke aan tussen regisseurs, teatermakers, skrywers en ander kreatiewe kunstenaars. Sedert hul stigting in 2010 bied hulle pittige, prikkelende produksies aan wat uiteenlopende gehore plaaslik en in die buiteland bekoor.

McKay se lang merkwaardige loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf het vele hoogtepunte en sluit ook in dat hy die afgelope dekade gereeld sy ambag oorsee ploeg in lande soos Australië en Nieu-Seeland. Sy veelsydigheid het hom ook die geleentheid gegun om gasheer te wees by die premièrevertoning van HBO se House of the Dragon se eerste seisoen wat in 2022 op M-Net gespeel het. Die aanbieder van Bush Radio se Laidback Thursday bly op hoë aanvraag as ‘n vryskut aanbieder, gasheer en sermoniemeester, Hy is ook welbekend vir YouTube-snitte soos Wheelies en Couple Arguments, asook opnames van hom eenmanvertoning Roots wat een van sy gewildste tot dusver was.

Direkteur Jeremeo Le Cordeur en komediant Wayne McKay – Foto: Jeremeo Le Cordeur

Die Direksie is in Goeie Hande

AfriSnaaks word opgevoer onder die direksie van die begaafde en bekroonde kuns en vermaaklikheid profesioneel Jeremeo Le Cordeur. Le Cordeur het meer as ‘n dekade se ondervinding in verskeie sektore van die kulturele en kreatiewe bedryf in Suid-Afrika en in die buiteland. Hy kom van die Bolandse dorp Wellington in die
Wes-Kaap en het in verskeie hoedanighede gedien sedert hy aan City Varsity se Skool vir Media en Skeppende Kunste in 2008 geegradueer het.

“AfriSnaaks neem jou op ‘n reis deur die snaaksheid en eienaardighede van Afrikaans. Dit wys die taal se speelse nuanses as ‘n omgangstaal en die absurditeite wat dit so uniek humoristies maak.”
“Gehore kan daarna uitsien om onder meer ‘n oorbrugging van die skeidings tussen Afrikaaps en Afrikaans op die verhoog in ‘n hartverblydende
humoristiese manier te ervaar wat jou sal laat lag totdat jy huil,” sê die show se bekroonde direkteur, Jeremeo Le Cordeur.

Is Klaa Warrit Soe Is

Ons het met Wayne gesels… of ten minste het ôs hard ge-try om iets uit hom te kry, want yassis… Wayne Mckay is nog meer vrek snaaks as die man excited is.
“Al wat ek wil sê is mense moet ytstiek vi ‘n lekke rollercoaster aand van lag, want ôs mense benodig ‘it.”
Ek sê toe “That’s a fact, ôs hêrrit nodig” en Wayne sak af, “Ja. Is klaa warrit soe is.”

AfriSnaaks wys vanaf 5 tot 10 Februarie 2024 by die Artscape Innovation Lounge.
Vir meer inligting, kontak 067 037 6401.
Om kaartjies te koop, besoek Webtickets of koop direk by die Kunstekaap loket.
Diegene wie blokbesprekings vir spesiale belangegroepe wil maak is ook welkom om navrae te doen.

What do you think?

Written by Ryan Swano

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

GIPHY App Key not set. Please check settings

Karbrasse TV Show Proves Car Culture Keeps Families Together

Legendary SA Musician Tony Cedras Passed Away